Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - Sondag 13 JUNIE 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die internet by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 10,130, 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)


In die nuus vandag:

IS U STASIE GEREED VIR JONGMENSE OP 16 JUNIE?

SA-AMSAT KONDIG AMPSDRAERS AAN

LEERDERS BOU HABEX-LOONVRAG

BENOEM DIE CUBESAT-PROJEK

85STE VIERINGE-NAELLOOP WAS ‘N GROOT SUKSES

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede en ander
belangrike en interessante nuusitems.

IS U STASIE GEREED VIR JONGMENSE OP 16 JUNIE?

Klubs en individuele radioamateurs word aangemoedig om stasies op te rig in openbare plekke soos winkelsentrums om Jeugdag 2010 te vier. Dit is 'n uitstekende geleentheid om amateurradio bekend te stel as die grootste van alle wetenskaplike stokperdjies en is 'n unieke geleentheid om jongmense aan te moedig om toe te tree tot 'n loopbaan in elektronika of kommunikasie.

In voorverlede week se SARL-nuusbulletin het Gerhard Coetzee, ZS3TG, dit beklemtoon dat - met die Sokker-Węreldbeker in volle swang en skole gesluit - radioamateurs 'n gulde geleentheid het om Jeugdag op 16 Junie te vier met die SARL-aksie en sodoende die jeug van Suid-Afrika bloot te stel aan amateurradio deur die oprig van die stasies.

Talle pryse kan gedurende die aksie gewen word en daar is 'n gelukstrekking vir dié deelnemers wat logstate met ten minste 10 inskrywings daarop indien.

Klubs wat van plan is om stasies op te rig word versoek om hul inligting deur te stuur na armi@sarl.org.za vir insluiting in mediavrystellings wat deur die SARL se PIO-netwerk gehanteer sal word. Volledige inligting is op www.sarl.org.za se tuisblad beskikbaar. Klik op "Youth activity".

Nooi jongmense gerus uit na u radiostasie en laat hulle toe om die toerusting onder u toesig te gebruik.

SA AMSAT KONDIG AMPSDRAERS AAN

Die SA-AMSAT-komitee het verlede week gedurende ‘n telekonferensie hul ampsdraers aangewys. David Long, ZS5FR, behou die presidentskap, met Eddie Leighton, ZS6BNE, wat by hom aansluit as vise-president. Ander benoemings is: Hans van de Groenendaal, ZS6AKV - sekretaris/tesourier; John Willescroft, ZS6EF, - tegnologiebestuurder; SAARDT-verteenwoordiger - Craig Gibson, ZS6CG. Komiteelede: Laurie Deveraux, ZS5DL, en Dave Smith, ZS5LPT.
Die streeksorganiseerders is Eddie Leighton, ZS6BNE, vir ZS3, ZS4 en ZS6, Dave Smith, ZS5LPT, vir ZS5 en Allan Saul, ZS1LS vir ZS1 en ZS2.

LEERLINGE BOU HABEX-LOONVRAG

Die SciBono-ontdekkingssentrum, ZS6CI, in samewerking met die Gautengse Departement van Opvoeding, het die Hoë-hoogte Ballon-eksperiment (HABEX) in die lewe geroep.

HABEX het tot stand gekom na aanleiding van die BACAR-inisiatief. Die doel is om skole in Gauteng te betrek by die ontwikkeling en konstruksie van ‘n loonvrag wat tot op ‘n hoë hoogte met onbemande metereologiese ballonne gelanseer gaan word. Vir hierdie doel het SciBono reeds ‘n begroting goedgekeur vir die konstruksie van HABEX en toestemming is ook reeds verkry van die Sentrale Lugruimbestuurs-eenheid (of CAMU) om die ballonne op 24 Julie te lanseer. Die lansering sal vanaf die vliegveld te Klerksdorp plaasvind.

Tien skoolspanne gaan deelneem en verskeie radioamateurs het aangedui dat hulle deel wil uitmaak van hierdie opwindende projek. ‘n Span radioamateur-ingenieurs en -ontwerpers ondersteun die skole met die ontwikkeling van loonvragte. U kan ook deelneem aan die aktiwiteite van die HABEX-lansering in 2010.

“Ons is so opgewonde oor die projek dat daar selfs gepoog gaan word om ‘n węreldrekordhoogte van meer as 38 000 meter met ‘n onbemande ballon te bereik,” het Chris Gryffenberg, ZS6COG, aan SARL-nuus gesę. “Om dit te kan doen, is spesiale ballonne bestel om die loonvrag tot daardie hoogte te dra. Tien loonvragte is tans onder konstruksie en die skole sal op 16 Junie – Jeugdag - verder daaraan bou.

Gedurende die naweek van 23 - 24 Julie gaan talle radioamateurs en leerders uitkamp en in ware ruimteprogramstyl hul onderskeie sendings voorberei met sendingbeheer en soek-en-herwinstrategieë en selfs ‘n lanseerplatform.

Chris beveel aan dat, as u wil deel uitmaak van hierdie opwindende projek, u vir Fannie Matumba by die SciBono Ontdekkingssentrum skakel by 011 639 8400. Nog ‘n hele paar opspoor-en-herwinningsspanne word benodig vir hierdie grootse projek.

‘n NAAM VIR DIE CUBESAT-PROJEK

SA-AMSAT nooi radioamateurs om ‘n naam voor te stel vir sy CubeSat-projek. Die projek is tydens die onlangse Ruimtesimposium aangekondig en behels die ontwerp en konstruksie van ‘n CubeSat. ‘n CubeSat is ‘n 10 cm-kubus met ‘n massa van nie meer as 1 kg nie. Die projeknaam moet ‘n enkelwoord wees in enige van Suid Afrika se amptelike tale en behoort die gees van die projek te weerspieël. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die naam wat aan die om-die-węreld-ballonprojek gegee is, nl. “lalela”, wat in Zoeloe beteken “om te luister”.

Die weninskrywing sal ‘n satelliethandboek ontvang. Inskrywings moet per e-pos gestuur word aan saamsat@intekom.co.za Die sluitingsdatum is 15 Julie.

85STE VIERING VAN NAELLOOP ‘N GROOT SUKSES

49 logstate is ontvang. Die wenner is Jan Botha, ZS4JAN, met 232 punte. Jan het versoek dat sy prys, ‘n ARRL-handboek, geskenk word aan die jongste deelnemende radioamateur. Baie geluk aan Jean-Pierre, ZU6PJ, wat die jongste deelnemer was. In die tweede plek was Wessie Wessels, ZS2A, met 147, gevolg deur Philip Esterhuizen, ZS4PJ, met 144 punte.

Drie logstate is van jong radioamateurs ontvang: Mitchell Mynhardt, ZS6YH, met 128 punte, was die wenner. Tweede was Jean-Pierre Coetzee, ZU6PJ, met 48 en derde Ben Scholtz, ZU1BEN, met 10 punte. Baie geluk aan Mitchell, ZS6YH, met die ARRL-handboek wat hy gewen het. Pam Momberg, ZS6APT, het die gelukstrekking gewen.

Die wenners se pryse sal teen middel Julie versend word. Volledige uitslae en statistiek van die kompetisie is beskikbaar in PDF-formaat van zs6wr.co.za/contest.php.

ZS85SARL OP DIE LUG OP JEUGDAG

'n Groepie amateurs van die Boland Radioamateurklub gaan op Woensdag, 16 Junie aan die Jeugnaelloop deelneem onder die roepsein ZS85SARL. Dié geleentheid word as tweedoelig beskou; eerstens om die jeug - en ander amateurs - die kans te gee om met die spesiale roepsein ter viering van die SARL se 85ste verjaardag kontak te maak, en tweedens om moontlik die laaste uitstaande kontakte te maak om te verseker dat 'n WAZS-sertifikaat aan ZS85SARL uitgereik word.

UHF/BHF-INDABA

Tot dusver is nog geen terugvoering ontvang rakende óf die kompetisie, óf die Indaba wat vir 26 Junie geskeduleer is nie. Laat ons asseblief weet of u van plan is om die Indaba by te woon.

Indien daar nie positiewe terugvoering ontvang word nie, sal dit genoodsaak wees om dié kompetisie te skrap ten gunste van iets anders.

Gee hierdie aangeleentheid asseblief u ernstige oorweging.

PRESTASIES

Baie geluk aan Jannie Minny, ZS4JR, met sy drieling, Janita, Hannelie en Emelia) en sy vrou, Johannatjie wat almal met B-punte in die onlangse RAE geslaag het. Dit is moontlik die eerste keer dat 'n drieling saam geskryf en deurgekom het. Baie geluk aan julle almal.

Jan Jordaan, ZS3JAN, voorheen ZR3JAJ, was op 5 Junie presies 1 jaar op die lug. In die tyd het hy opgegradeer van ZR na ZS en reeds ‘n WAZS100, WAZS 200 en Topband-sertifikate verwerf en sy aansoek vir die WAZS 300 is ingedien. Baie geluk Jan, jy stel n pragtige voorbeeld.

WES-RAND-RADIOAMATEURKLUB SE SNUFFELMARK

Die Wes-Rand-radioamateurklub hou hul volgende snuffelmark om 12:00 SAT op Saterdag 26 Junie by die klubhuis in Krotonstraat, Weltevredenpark, Roodepoort. Almal is baie welkom. Vir meer inligting kontak Joop, ZS6C, by 082 342 3280.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Sonvlek 1 078 en 'n nabye ander vlek is egter besig om mooi in die suidelike halfrond te groei. Die son is besig om uit sy diep slaap te ontwaak en daar kan heelwat hoër aktiwiteitsvlakke gedurende die volgende paar jaar verwag word. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week gaan minder as 10 wees.

20 m is die beste keuse vir DX gevolg deur 15 en 17 m. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en aande behoort toestande na Europa goed te wees. Probeer kontakte met Australië maak gedurende sonsopkoms. Kontakte met die VSA behoort uitdagend te wees. Toestande na Brasilië is besig om te verbeter.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag goed wees op 40 m. Met die winter wat ons bekruip het, het 30 m by 20 m oorgeneem vir kontakte oor die langer afstande gedurende die middel van die dag. Met die laer ruisvlakke is 80 m vroegoggend en laatmiddag die beste keuse, asook vir kontakte oor die korter afstande.

Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

12-26 Junie - ZS1VTS op die lug tydens die Voortrekkerkamp;
16 Junie - Jeugdagvierings; SARL-naelloop; HABEX-loonvragkonstruksie;
26 Junie - BHF-indaba by die NARS om 12:00;
26 Junie - Wes-Rand-radioamateurklub se snuffelmark om 12:00;
15 Julie – Laaste dag om naam vir CubeSat-projek voor te lę;
18 Julie - Integnet om 19:30 oor BHF/UHF/Mikrogolf-aangeleenthede;
23-24 Julie - Voorbereiding en lansering van HABEX-ballon-eksperiment;
24 Julie - RTA-simposium in Kaapstad;
12-14 Augustus - Internasionale AMA-konferensie in Dallas, Texas;
21 Augustus - RTA-simposium in Port Elizabeth;
31 Augustus - Sluitingsdatum vir indiening van voorstelle vir die 2011-
kompetisiehandboek;
18 September - RTA-simposium in Gauteng;
30 September - sluitingsdatum vir fase 1 van die Innovasieprojek.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio Mirror International wat om 10:00 SAT op 145,750 in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n “podcast”-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "ARMI" en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin wat deur Leon, ZS4V, saamgestel is en geredigeer is deur Jannie, ZR6PHD.

Dankie dat u saamgeluister het.

73.

/EX



Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003